DIE Kanoss laerskole rugby eindstryd is verlede Vrydag deur Laerskool Seodin aangebied by die Kuruman Skougronde. Daar is ses wedstryde tussen 12 spanne gespeel.
Kinders het vroegdag af hul spanne langs die veld aangemoedig terwyl hulle gesmul het aan pannekoek en koeldrank gedrink het.
In die 0/9B liga het die Noord Kaap Laerskool van Olifantshoek die span van Hotrock (saamgestel uit Hotazel en Blackrock) met 10 – 0 geklop.
In die wedstryd daarna het Hotrock se 0/11 span die Laerskool Wrenchville 10 – 5 gewen. Die skeidsregter het hul goed gekwyt van hul taak tydens dié naelbytstryd. Die wedstryd het gelykop geëindig en daar moes vyf minute ekstra tyd aan albei kante gespeel word.
Die spanne van Kathu en Wrenchville laerskole het in die 13/B liga kragte gemeet. Die span van Kathu was van die begin af sterk en het die doellyn vaartbelyn gekruis. Hulle het met 27 – 0 gewen.
In die A liga het Laerskool Seodin al die wedstryde gewen in die 0/9 teen Postmasburg (10-0), 0/11 teen Laerskool Kuruman (44-7) en 0/13 teen Laerskool Kathu (15- 10).







